Wednesday, April 30, 2025

Malta hoofeiland dag 2

 


 Vandag ry ek die rooi bus en kry die groep net voor 14:00 in Mosta. Ek sien so baie stunning goed. Sal probeer vertel, maar laat ek by gisteraand se Turkse ete begin. 

Ek stap niksvermoedend 18:00 se kant (spanvergadering was eers 20:00) by ‘n klein restaurantjie verby en sien een oop tafel. Ek sit en die vriendelike familiesjef kan duidelik sien ek is ver uit my gemaksone van gewone kos van ‘n spyskaart af bestel en kom sit hand by. Altyd opwindend as jy nie een gereg al ooit voorheen geëet het nie. 

Ek bestel ‘n lamsvleisgereg vir 16 euro en skrik my morsdood oor wat alles by die tafel opdaag!


Die brood lyk soos ‘n ballon en is heeltemal hol aan die binnekant. Die lamsvleis kom met 5 bygeregte! Was heerlik. Ek het net halfpad gekom. Vanaand gaan drie vriendinne in die groep saam en sal ons deel en minder los. Die sjef het drie keer gevra of ek seker is ek het dit geniet, want hoekom eet ek dit nie op nie. 


Die MSC Europa lê in Valletta Waterfront. Malta se hoofstad. 

Mosta se Parish is in 1833 begin bou en voltooi in 1860. Werklik indrukwekkend!

Vanmiddag se medetereense slaai. Natuurlik met ‘n suurlemoen cisk. 



Die interessantste gesig vandag was Mdina. Dit is ‘n geskiedkundige stad met mure omring. Tot 500 jaar gelede was dit die hoofstad van Malta, maar het toe in onbruik verval en heeltemal verwaarloos geraak toe die Knights in 1530 eerder ‘n kusdorp as hoofdorp wou gebruik.  Nou is dit opgeknap (sedert 18:00’s meer en meer gebruik) en ‘n toeriste attraksie. Daar bly 250 mense in Mdina. 

Die hoofingang. 



Daar word VERSKIKLIK gebou op die eiland. Ek het meer van Gozo gehou. 

Elke dorpsgedeelte het hul eie kerk.  Ek lees vandag dat daar 359 kerke in Malta is. Van hulle is 46 in Gozo. Ek het die eerste keer van Malta gehoor in die Bybel met Paulus se 3de sendingreis. Gelukkig nog nie soos hy ‘n slang hier teëgekom nie. 


Vanaand is dit die finaal van die Internasionale Vuurwerkvertoning Kompetisie in Valletta. Ons gaan kyk hoeveel ons daarvan van hierdie kant (Sliema) af gesien kan kry. Dit begin 21:00. 



Tuesday, April 29, 2025

Sliema en Valletta: die stadslewe van Malta


Vannag 03:10 word ons wakker met ‘n properse hoëveld-storm. Dit blits, donder en reën dat dit klap. Ek staan op die balkon en neem fotos! Die Krag van ons Skepper. Om 05:00 volg die tweede bedryf. Ontsagwekkend. 





Maar toe ons 07:00 aansit vir ontbyt is alles oor en volg ‘n pragtige bloulug-dag. Ons groet vandag Gozo eiland en verskuif na Malta se hoofeiland genaamd Malta. Ons bussie kry ons 09:00. Ons wil graag die 09:45 ferrie vang in Mgarr. 

Daar is wonderlike mense in ons groep. Hier by my is Mariette (links) en Hemuna (regs).

Ons bly die volgende 4 nagte in die Diplomat Hotel Sliema, Malta. 


Uitsig uit ons kamer. 

Ons laai net tasse af en begin ons stap vd dag al langs die prominade tot in Valletta. 





Ek vat die publieke ferrie. Vinnig, goedkoop en effektief. Dis darem uiters nodig om goeie publieke vervoer te hê. 


Middagete is ‘n baie besonderse cheviche en gebakte briekaas met suurlemoen cisk! Kyk net die uitsig! Dis Manoel Eiland. 

Ek stap later terug hotel toe (nog 3 km) en vat ‘n middagslapie. Dan volg Earl Grey tee en ‘n heerlike stort. Ons spanpraatjie is eers 20:00. Nog ‘n heerlike dag in Malta! 🇲🇹 

Monday, April 28, 2025

Malta Stapdag 2: Mgarr Hawe na Ramlastrand 9 km kuslangs met boulder hopping en baie blomme

 

Vandag se 9 km het die mooiste blomme langs die pad opgelewer. Dis lente en Gozo het meer reën gehad as normaalweg (alias die locals). Alles is groen en in blom!
Die pers blom links bo (hierbo) en regs onder (collage hieronder) is die Centaurea en dit is Malta se nasionale blom. 






Ons vertrek weer 08:00 met die bussie uit Marsalforn na ‘n heerlike ontbyt. Die bussie laai ons af in Mgarr. Dit is die hawedorp waar ons met die ferrie aangekom het. Vandaar stap ons na Ramla-strand. 12 km. Ek ry die laaste 3 km saam met vriendelike Maltese. 


My Ma het nog altyd gesê my mond sal my uitkry uit enige situasie. Wel, as jou bene nie wil verder nie… moet jy mooi vra. Ek het. Ek het hulle betaal met gerookte amandels uit SA. 

Die kuslyn was asemrowend mooi vandag. Maar die stap was baie moeilik en uitdagend. Baie boulder hopping, ronde klippe balanseer soos in die Visrivier Skeurvallei en baie oppe en affe. Ons sukkel vanaand om te loop. 





Hierdie is aktiewe sout panne waar hulle sout oes in die somermaande. 




Ons begin vanoggend by Mgarr (nommer 1/15 op kaart) en eindig by Ramla (nommer 13). 

Ons eet vanaand weer ‘n Griekse slaai by dieselfde restaurant as gisteraand. Kyk die mooi uitsig. 

Vanaand se nagereg is ‘n pistachio kannoli (tipies van Malta). Met ricotta kaas en pistachio neute. Dis heerlik!

Ramla strand is die gewildste swemstrand in Gozo eiland. Ons stap vandag het hier geëindig. 

Ons is ingedeel in buddies waar twee-twee van ons mekaar help en oppas op die trip. My buddy is Hemuna. Wat ‘n wonderlike nuwe vriendin!

Ek en my roomie! Ronel van Tonder. 



Nog ‘n fantastiese dag. Ons is moeg en seer, maar diep vervuld en gelukkig. 



Sunday, April 27, 2025

Malta Stapdag 1: Xlendi na Marsalforn (vir my tot by Dwejra en rooibus verder)



Mooi op mooi op mooi op mooi! 


Vandag stap ons van Xlendi (Shlendi) na Marsalforn kuslangs bo-op hoë kranse. Van no 9 op die kaart kloksgewys na no 11. Ek stap 9 van die 19 km (vooraf so beplan) en kry daar die rooi bus by Dwejra. 



Nadat ons almal 07:00 ontbyt geëet het en 08:00 buite reggestaan het vir aksie, het ons vervoer ons gevat na Xlendi. Vandaar klim 10 van die 16 baie styl trappe na bo-op die eskarp. Die ander ses van ons word bo afgelaai en stap 2,5 km kontoer om die res te ontmoet. 

Dis lente in Malta! Die poppievelde is vrolik!

Ses kontoerstappers!



Hierdie kuslyn slaan jou asem weg. Van mooi en van styl. 








Die baaitjie net voor Dwejra waar ek die bus kry. Dwejra is bekend vir die Azure Venster wat in 2017 inmekaargesak het agv erosie en storms. Hierdie plek hierbo is blougat. 



Die wagtoring van Dwejra is reeds in die 17de eeu gebou. 


Was 9 km. Ek het vergeet om my horlosie te druk.
En toe klim ek op die Rooi Bus! En toer verder vir ‘n voldag deur die hele Gozo eiland. Dit is 13 km lank en 7 km wyd met 30 000 inwoners en nog soveel toeriste. 





Ek sal later nog vertel. Nou eers spanpraatjie vir môre se stap. 


Hierdie griekse slaai is my aandete. Was voortreflik!

Malta het in 1961 onafhanklikheid gekry van Brittanje en in 1974 ‘n republiek geword. Gozo eiland se hoofstad (dink grootte Piketberg) is Rabbat, maar weer onlangs na Victoria herdoop om Koningin Elizabeth se 50 ste regeringsjaar te herdenk. Malta is ook deel van die Europese Unie.