Tuesday, April 13, 2010

'n Paasnaweek uitstappie saam met Lizel en Tier Teuns

































Dis Paasnaweek 2010 en 14 van ons is oppad Prince Albert toe in die Klein Karoo. Ons is 'n groep vriende wat deur Teuns en Lizel genooi is om saam met hulle te kom feesvier. Teuns word 40 en hul herdenk hul eerste jaar van huwelikslewe. Nou, niemand het gedink dat ons gaan sit en koek eet of rooi koeldrank drink saam met Teuns nie. Hy staan nie verniet bekend as die Tier nie. Lizel het sy oorspronklike toerplan afgeskaal om dit vriendekring aanvaarbaar te maak en ons het besluit om saam te gaan.

Vier van ons vertrek Vrydagoggend 2 April 2010 met Pieter en Elsje Diener se Cruzer na Prince Albert. Johan en Katarina Gerber ry saam met my en Johann Diener. Na 'n heerlike ontbyt by Laingsburg se hotel is ons gereed vir die uitdagings van die dag, of so het ons gedink. Ons slaan kamp op by PA en ses van ons vertrek om na die Gamkapoortdam te gaan kyk (met die fietse). Ons ry met die bakkie 26 km uit die dorp uit en toe verder met die fietse. Baie sand wat maak dat Katarina neerslaan en ek bo-oor haar, maar niks sal ons afsit om by die pragtige dam uit te kom nie. Ons swem heerlik en ry terug. Ons kom by die Cruzer aan net toe die son sak. Dis asemrowend mooi, net soos die Karoo kan wees in die laatmiddag.

Ons braai snoek met heerlike patats en slaai en klim vroeg in die bed, want more ry ons van PA na De Rust via Klaarstroom en Meiringspoort. Teuns laat dit baie maklik klink en moedig ons aan met die gedagte dat dit alles teerpad is en gelyk! Die padkaart was nie baie duidelik oor die hoogte van die Kredouwpas nie en ons kry 'n onverwagse skrikmakertjie, maar almal vaar goed en van daar na Klaarstroom is heerlik gelyk en vinnig. Ons drink koeldrank by die enigste winkel in Klaarstroom en geniet die gasvryheid van die plaaslike mense. Meiringspoort is PRAGTIG. Net Johan Gerber sien kans om te swem in die waterval. Ons druk deur De Rust toe en hou heerlik partytjie met wortelkoek en appeltert wat Lizel laat bak het. Dit alles nadat ons heerlik geswem en ontspan het.

Ons het skaars ons tente toegezip na 'n braai, toe begin dit reen en reen en reen. Ek staan vroeg en nat op en ons wens vir Teuns geluk met sy verjaarsdag. Dis opstandigings sondag en ons vier die feit dat Jesus lewe en die dood oorwin het. Die pad Kango grotte toe is sleg en lank en baie nat. Ons sukkel met ratte wat krap en kettings wat vol modder is, maar geniet die volstruise langs die pad baie. Swartbergpas is in mis gehul en dit help dat mens nie die bokant kan sien nie. Dis steil, baie koud en BAIE modderig, maar ons is tuff en ons druk deur. Dit vat lank om bo-uit te kom, maar ons kom daar en geniet die afdraend aan die anderkant. In die laaste drif maak ons middagete om 16:30 (en Teuns het gewonder wat ons die hele middag in die kampterrein gaan maak) en hou opnuut partytjie vir Teuns.

Ons het 200 km afgele, die wereld gesien vanuit 'n fietssaal, saam swaargekry en die toertjie baie geniet. Wat wil 'n mens meer he? Die Maandag ry ons op al die agterpaaie terug Stellenbosch toe om die verkeer te mis, maar meer nog... om plekke te sien waar ons nog nie was nie. Anysberg om tussen Laingsburg en Montagu en Eilandia om na Worcester en Villiersdorp na Franschhoek. 'n Heerlike naweek saam met vriende om te herdenk dat Christus gesterf het en dat hy opgestaan het uit die dood en dat Hy leef sodat ons met Hom kan voluit leef!

No comments:

Post a Comment