Tuesday, April 28, 2009

28 April 2009: Namche Bazar na Syangboche


Eerste fantastiese uitsigte op Everest! Ek het geen woorde nie. Die van julle wat my goed ken sal weet ek huil nie maklik nie, maar vanoggend was anders. Die trane het net oor my wange gestroom want ek kon nie glo wat ek sien nie...


Vanoggend het ons 7 uur aangesit vir ontbyt en 8 uur vertrek na 'n hotel 400 meter hoer as wat ons geslaap het. Dis nodig vir akklimatisasie. Ons het baie stadig gestap want die lug is vrek dun. Dit het ons 1 uur en 45 minute gevat om die 400 vertikal meter (en seker maksimum twee tot drie kilometer in afstand) te klim. Dis koud, maar ons was so opgewonde om Everest vir die eerste keer volledig te sien, dat ons nie omgegee het nie. Ek toe is ons daar en sien drie van die agt hoogste pieke in die wereld. Die ander twee is Lotshe en Lotshe Shar. Hulle le regs van Everest van waar ons gestaan en direk Noord gekyk het. Ek het net gese: Here, ek is jammer dat ek soms so klein oor u dink. Die hotel is nog 50 km weg vanaf Everest en die top van Everest le ongeveer 5000 m hoer as die hotel. Dis 5 km! Net om julle wat in Stellenbosch bly in perspektief te bring... dis meer as drie keer die Pieke bo op mekaar!


Wat 'n gesig! Ek het dit laat inbrand in my geheue en hoop om dit nooit weer te vergeet nie. Die Here was ons baie genadig met die weer. Ons moes minstens 90 minute daar bly om ons longe te laat rek (eintlik is dit die rooibloedselle wat moet meer word) en ons het boulle gespeel en lemon tea gedrink. Die groep maak baie grappies en ons geniet nog almal mekaar se geselskap.


Wat ek die meeste geniet van alles is my nuwe kamera! Baie dankie Pappa! En Ilze, die gear wat ek by jou gekoop het werk baie goed. Gisteraand het ek my eerste 300 foto's op 'n CD laat laai by die Cyber Cafe in Namche Bazar en toe die ou my First Ascent baadjie sien is hy baie opgewonde en weet dadelik dit kom van SA af. Daar is 'n groep van SA in basecamp wat poog om te summit. Ons gaan hulle groet as ons daar kom. First Ascent borg hulle glo. Hier is die "gear" verspot goedkoop, maar definitief tuisgemaak. Hulle verstaan glad nie kopiereg nie en elke tweede jas hier is "The North Face", maar kos driehonderd rand en aan die stiksels kan mens sien dis tuisgemaak. Ek het vanmiddag twee langmou "quickwick" hemde gekoop vir R60 elk. Dis darem in Korea gemaak en 100% poliester. My kortmou hemde gaan dit nie maak in hierdie koue nie.

Ek geniet hierdie uitstappie baie meer as wat ek gedink het.

Dit wat ek die meeste bewonder van die Sherpa's is hulle eenvoud. Hier word niks as van selfsprekend aanvaar nie. Ons is op 3440 meter tans en alles wat hulle hier gebruik van 'n eier tot die rekenaar waarop ek tik, word deur porters hier in die vallei opgedra met hul lywe. Ons het gister 'n ou gesien wat 102kg se hout op sy rug, nek en kop dra. Hulle word betaal per kg. Ek het mooi foto's daarvan geneem, want dis ongelooflik. Ek is definitief besig om iets te leer oor eenvoud.

Verder is die kos iets om te aanskou. Dis heerlik. Ons menu bestaan uit veg fried rice, chips en eiers, toasted broodjies, gisteraand was daar hoender stew oor rys wat baie lekker was. Daar was tot groente in.

1 comment:

  1. Hi
    Hoop dit gaan goed. Kan dit amper nie glo nie. Dit lyk so onwerklik as 'n mens dit meet aan wat ons verwysingsraamwerk op Stellenbosch is. Bly vir jou vir wat jy bereik het. Sien - ek het gese dat jy GROOT hoogtes gaan bereik hierdie jaar! Michelle

    ReplyDelete