Monday, April 20, 2009

18 April 2009: Stellenbosch Berg


Dis bykans ongelooflik dat ek al altesaam 16 jaar op Stellenbosch bly en nog nooit tot heel bo op Stellenboschberg was nie. Veral as jy weet dat ek spesiaal 'n paar jaar terug my kombuisvenster laat vergroot het sodat ek die berg kan sien terwyl ek skottelgoed was. Vandag kan ek die aantal dae voordat ek Nepal toe vertrek op my een hand tel. Ek is baie opgewonde, maar begin ook die senuwees voel wat knaag. My vriende en familie is ongelooflik ondersteunend en almal sal bid vir veiligheid en 'n opwindende trip. My verwagting is om oorweldig te word deur die almag van God. Agt van die tien hoogste pieke in die wereld is in die Himalayas en ek kan nie wag om dit te sien en te ervaar hoe dit my lewe verander nie.


Die stap vandag was besonders. Dit was heerlik koel en die top van Stellenbosch berg was heeltemal in mis gehul. Ons het lank daar bo tjoepstil gesit en net geluister. Ek kon die druppels op die klippe hoor val. Dit het gevoel of die Here self langs ons sit. Jan het maklik die pad op en af gekry en ek was dankbaar dat hy tyd en energie insit om saam met my te oefen. Dit help baie. As mens eers die dorp van bo af gesien het, dink mens anders oor die uitdagings in die elke dagse lewe. Die plantegroei op die berg het my beindruk. Dit het presies 'n maand gelede heeltemal afgebrand in een van die ergste brande wat Stellenbosch in 'n lang tyd beleef het en hier het die meeste protea en ander fynbos reeds weer uitgeloop en aangegaan asof niks fout is nie. Ons kan baie by die natuur leer van "resilience".

No comments:

Post a Comment