Friday, April 24, 2009

25 April 2009: Kathmandu


Wat kan ek se oor Kathmandu! Wow! Miljoene mense in baie vuil strate met geen verkeersreels of bouregulasies nie, maar 'n "vibe" wat vir niks skrik nie. Ons ry met 'n taxi na Tahmel. Dis die toeriste mecca van Kathmandu. Nou moet julle asb nie die waterfront voor julle geestesoe oproep nie... Dis iets soos 'n kruising tussen Kayamandi se Suqukulo Straat en die groentemarkplein in Kaapstad. Die mense is arm (60% werkloos) en toerisme is hulle enigste inkomste. Hulle oorval jou met aanbiedinge en almal wil jou vervoer. Die rygoed wissel van fietse, riksas, bromponies, motorfietse, baie ou karre en hier en daar 'n 16 sitplek taxi. Ek het reeds 50% van my lewensversekering opgebruik van na Tahmel en terug ry! Maar wat 'n belewenis. Ons eet in die Rum Doodle Restaurant. Almal wat al Everest tot bo geklim het mag daar verniet eet. Sean vat dus al sy toergroepe soontoe. Yak steak e Tandoori Hoender was op die spyskaart en jou doori was daai hoender sterk!


Vanoggend vroeg is ons na die tempel langs die hotel. (Foto aangeheg) Ek verkyk my aan die Hindu en Boeddhistiese gebruike. Almal is so bygelowig en daar is letterlik duisende mense reeds 06:00 by die tempel. Hulle stap om die tempel, prewel gebede, steek kerse op en gooi mieliepitte vir die duiwe. Maar almal se oe is leeg. Jy sien niemand glimlag nie.


Ons ontbyt was heerlik. Vandag "shop" ons in Kathmandu en kry al ons heel laaste goed. More-oggend baie vroeg vertrek ons na Lukla. Die weer is tans baie goed. Die stad is in mis gehul, maar dis eintlik stof en rook. Dis te snaaks om te sien dat die mense met stofmaskertjies in die strate loop. Ons stadsingenieur sal 'n hartaanval kry oor hierdie paaie en die rommel le orals. Miskien moet ek oorweeg om hier by die Munisipaliteit te werk. Ek sien vanoggend in hulle Kathmandu Post dat hulle 'n pos adverteer vir 'n bouinspekteur. Mens sal nooit aan die geboue se dat hier sulke poste is nie. :-)

No comments:

Post a Comment