Sunday, September 16, 2018

Tivoli tuine

14574 treë verder, 10.17 km en 4 ure later is ons terug by Bedwood en bestel summier ‘n taxi om ons lughawe toe te vat. Die hele Copenhagen het cobblestone strate en dis hard op ons voete. As ek nou sê dat Tivoli ‘n teleurstelling was, sal julle miskien dink dis omdat my hak so seer is.  Ek het net meer tuine verwag.  Ja dit is herfs nou hier, maar nogtans. Dit gee glad nie ‘n Kirstenbosch gevoel nie.  Meer soos Ratanga pretpark met ‘n groot Oosterse invloed en ‘n baie deurmekaar gevoel.  Die lekkerste oomblikke was die Oden Express en die wafel by 112 jaar oue wafelhuis in die tuin. Maar die stad is pragtig. Hier is vandag ook ‘n halfmarathon aan die gang. Ons kry die trein vanaf die lughawe in Copenhagen na Mälmo in Swede. Alles is maklik om te kry, want hul sisteme werk en alles is goed gemerk.
Copenhagen is werklik ‘n pragtige stad vol karakter.



Binne Tivoli tuin.











Ons kry rooibostee uit Afrika (ons weet dit is die Weskus van Suid-Afrika) in die supermark. 


Tivoli se hoofingang.
Intussen lees ek dat Tivoli Park al in 1843 sy hekke oopgemaak het en dit is die tweede oudste pretpark in die wêreld. Die oudste is ook in Denemark in Klampenborg. Op ons kaartjie wys dit dat hulle tans die 175 verjaarsdag van die park vier. Disney World in Orlando is in 1971 geopen. Volgens google het Walt Disney twee keer Tivoli besoek in 1958.  In 2017 was daar 4,6 miljoen besoekers aan Tivoli park. Dis erg as mens dink die hele Denemarke het maar 5,73 miljoen mense. Ons sien baie ouer mense op straat en ook in die park.  Ek lees dat Denemarke se lewensverwagting is 81,1 jaar en Swede s’n is selfs nog hoër op 82,55.  Net om te vergelyk: Suid-Afrika s’n is 61 vir mans en 67 vir vrouens. 

Ons is nou eers klaar met Denemarke en bly in Mälmo, Swede tot Vrydag.  Vanaf Copenhagen het ons nou met die baie bekende en wêreldberoemde Öresund brug gekom wat ek so mooi uit die vliegtuig kon afneem. Die trein loop op die onderste vlak van die brug en die motors bo.
Die Öresund brug is 16 km lank en eers in 2000 geopen. Dit verbind Denemarke en Swede. Mälmo is ‘n kusdorp aan die suide van Swede en die 3de grootste stad in Swede. Dit grens aan die Baltiese see. 



No comments:

Post a Comment