Thursday, August 5, 2010

Vredendal, Kgalagadi en Witsand (Noord Kaap) 24 Julie 2010 - 1 Aug 2010







'n Welverdiende vakansie het begin in Vredendal op Boetie en Magdalene se plaas op Saterdag 24 Julie 2010. Ek en my ousus, Corne, was oppad Kgalagadi toe saam met Kalla en Lean en die kinders, maar is eers Vredendal toe. Pieter en Ina Badenhorst was ook daar want Pieter het die Daniel konferensie kom aanbied namens Moreletta Park NG Gemeente in Pretoria. Die Sondag is ons saam kerk toe na die afsluitingsdiens toe. Omtrent 180 manne het die Daniel konferensie bygewoon en dit was 'n heerlike belewenis om hulle te hoor sing tot eer van die Here. Na kerk ry ons Strandfontein toe want 'n jeug vriendin van Corne is in 1989 oorlede in 'n ongeluk op Strandfontein se strand en Corne was nog nooit daar nie. En daar kry ons wraggies 'n gedenksteen in die rotswand langs die strand ter ere aan Maleni Smit wat op 21 Oktober 1989 daar gesterf het. Voorwaar 'n voltooide sirkel vir Corne.
Ons vertrek die Maandag en slaap die aand by Kalla en Lean op die Smitte se familieplaas. Dis 'n heerlike dag. Ons besoek die waterval by Nieuwoudtville en eet ontbyt op Calvinia. Ek en Lean ry fiets op die plaas. Die volgende oggend ry ons eers Augrabiese waterval toe en daarna na Kgalagadi. Ons spandeer drie wonderlike dae in Kgalagadi en sien pragtige voels en vyf leeus en vyf jagluiperds.
Witsand was net so 'n verrassing! 'n Heerlike natuurreservaat in die Noord-Kaap tussen Groblershoop en Postmansburg. Ons rus heerlik, ry fiets, kyk voels, braai en kuier 'n hond uit 'n bos uit. Dis altyd lekker om te rus sonder selfoon ontvangs en met goeie geselskap. Baie dankie Corne en Kalla en Lean en die seuntjies. Dit was heerlik!



No comments:

Post a Comment