Sunday, November 15, 2009

To Hell and Back: 7 en 8 Nov 2009







Dis my sewende keer dat ek die bergfiets "extreme challenge" in die Gamkaskloof gedoen het. Dis 60 km in en die volgende dag 60 km uit. Nou 60 km is nie baie ver vir 'n fietsryer nie, maar hierdie is 'n perd van 'n ander kleur. Mens begin by De Hoek net buite Oudtshoorn en klim die eerste 20 km tot bo-op Swartbergpas. Dis pragtig, maar die laaste twee draaie is regtig steil. Na skelmdraai begin die pret en stap ek maar te heerlik langs my fiets op die stukke wat my bene nie meer wil trap nie. Die agterkant van Swartbergpas is kort en dan draai mens links op die witpad. Van daar af is dit nog 40 km se op en af tot in die Hel. Dis 'n pragtige natuurreservaat en die veld is regtig mooi. Hulle het baie reen gehad en ons kruis die rivier minstens drie keer. "Heart break hill" is weer 'n "bogger" en na 5 en 'n half ure se harde ry is ek onder in die hel.

Coos en Johann Diener het saam met my gegaan (of ek saam met hulle). Coos was na net drie ure onder en het vir ons 'n baie gesogte kampplek uitgesoek. Ek het 'n fisio sessie bespreek by die registrasie tafels en nou is ek bly. Vandag kyk mens die hele tyd terug na die pas wat ons more-oggend eerste ding moet uit. Dis 5 km se baie steil opdraend. Dit vat my 'n uur en ek stoot die meeste van die pad.

Wat 'n voorreg om gesond genoeg te wees om hierdie te kan ry. Ek is deel van 'n klein groepie mense wat al met hul fietse tot in die hel en terug was. Dankie Here, vir gesondheid! Dankie vir 'n sterk wil wat net nie wil ophou as ek swaar kry nie. (Dit help dat ek in die weermag was!)

Dis hard maar lekker!

No comments:

Post a Comment