Sunday, July 26, 2009

Stilbaai: siele rus en vriendskap




Daar kom 'n tyd dat mens net weet jy het 'n vriendin soos wat jy nooit weer sal he nie. Ek het die naweek weereens besef dat ek en Elizan altyd goeie vriende sal wees. Maak nie saak dat ons op twee verskillende halfrondtes van die aarde leef nie. Maak nie saak dat ons mekaar een keer elke drie jaar sien nie. Maak nie saak dat ons in heeltemal verskillende fases van ons lewens is nie. Sy is 'n voltydse Ma vir Daniel (3) wat nou ook weer voltyds studeer en dan is sy ook voltyds vrou vir Matthys.



Daar is net iets wat ons laat kliek. Sy inspireer my. Ek hou haar dop as sy met hulle seuntjie praat en ek beny haar haar vriendelike geduld en ongelooflike beleefdheid, al vra hy dieselfde ding die tiende keer oor en oor. Ek luister as sy met Matthys oor die telefoon praat en is beindruk met die respek en liefde wat uit haar stem straal, al is dit 'n gewone Saterdagaand gesprek en al praat hulle oor wat hy vanaand gaan eet en wat hy vanoggend in Kanada by 'n supermark gekoop het.



Ons kan ure spandeer om na mekaar te luister. Sy maak soms of sy van my stories nog nie gehoor het nie, want sy geniet dit so om dit weer te hoor (haar eie woorde) en dan lag ons weer van voor af. In Nov 1993 (amper 16 jaar gelede!) het ons twee die Verenigde Koninkryke en Europa plat getoer met rugsakke op. Ons was amper vyf weke alleen in mekaar se geselskap sonder om een skewe woord vir mekaar te se. En nou 16 jaar later is dit steeds so. Intussen het Matthys deel van Elizan se prentjie geword en dit was so goed om te sien dat ek en hy net so goed oor die weg kom. Jare later was Daniel daar en ek het die naweek gesien dat kinders van beste vriende maar eintlik kinders van jouself word. Dis maar die tweede keer in Daniel se lewetjie dat Tannie Hanlie hom sien en beleef, maar ek is reeds so lief vir hom. Omdat hy so 'n unieke mengsel van Elizan en Matthys is.



Elizan, my beste vriendin... Ek is mal oor jou. Ek is dankbaar dat afstand en jare nie ons vriendskap blus nie en ek is intens dankbaar dat ons vir altyd goeie vriende sal wees. Ek het net nog nooit weer 'n vriendin soos jy gehad nie. Mag die lewe vir jou, Matthys en Daniel uiters goed wees en mag die Here julle uitermate seen met alles wat Hy in Sy hemel het.

No comments:

Post a Comment