Thursday, July 23, 2009

Kosresepte vir stap

My stapgenote het gevra dat ek die resepte wat ons hierdie afgelope week in die Visrivier gebruik het, op die blog sit. Hier kom dit:

Agtergrond notas: Ek werk op die prinsiep van 'n stysel, 'n groente/vrug, 'n proteien en 'n poeding per aand per persoon. Ek hou daarvan dat die groep saam kos maak en almal dra ligter as mens saam dra. Ek werk die kos uit dat elkeen iets dra van elke dag sodat almal se sakke daagliks ligter word. Alle kos word dus gemerk met die nommer van die dag op en elke aand by die oorslaapplek haal elke stapper als uit wat hy/sy dra vir daardie dag. Ons maak ook kosspanne. Dis pret en maak dat almal mekaar nog beter leer ken en dat die verpligtinge verdeel word deur almal. Die kosspan maak vuur, maak kos, was skottelgoed en sorg dat die potte vol water is vir die volgende oggend se vroegoggend koffie.

Die spyskaart wissel van stap tot stap, maar hierdie een het ons hierdie week in die Visrivier gebruik. Die resepte is deurentyd genoeg vir 12 mense:
Dag 1:
Kerriemaalvleis, rys, gekookte droe vrugte (perskes), met hot chocolate en marsmallows vir poeding.

Ek maak die kerriemaalvleis klaar by die huis en droog dit in die oond voordat ek dit laat vakuum verpak by die slaghuis. Ek het 1,5 kg maalvleis gebruik met uie, groente, blatjang en kerrie en borrie in. Drie koppies rou rys en 6 droe halwe perskes vir elke persoon. Sodra mens by die slaapplek aankom, moet die perskes en vleis dadelik in koue water gesit word sodat die vleis kan hidreer en die perskes kan uitswel. Ek maak die hot chocolate met melk om dit lekker romerig te maak, maar dra volroom melk (net helfde van die hoeveelheid benodig) wat ek met water meer maak. Dan dra mens ligter.

Dag 2:
Pasta met bacon, kaas, salami, pynappelstukke en pitmielies. Daar was sjokolade mousse vir poeding. Ek koop Moirs of Cadbury se mousse. Dis heerlik. Ons het hierdie keer die peppermint crisp geur probeer en dit was 'n wenner. Die bacon, salami, kaas, pynappelstukke en pitmielies is alles vakuum verpak. Ek gebruik twee pakke noodles vir 12 mense.

Dag 3:
Cusslers met smash en mosterd sous (Ina Paarman) met beet (Verda boksies). Ek koop die ontbeende cusslers wat mens kry by die baconyskas in die supermark. Ek werk op twee cusslers per persoon en drie pakkies smash vir 12 mense. Ek het 'n vakuum pakkie margarien saamgevat vir die smash en mens kan ook bietjie bakpoeier dra om dit veerlig te maak. Dis heerlik. Ons het die cusslers in 'n kastrol gebraai en die mosterdsous oorgegooi en warm gemaak. Dit was baie lekker. Beet is 'n wenner. Vir poeding het ons karamel kits poeding gedoen.

Dag 4:
Pasta met seekos met tuna (drie blikkies) en mossels (2 blikkies) in. Ek gebruik die Gourmet Sop (seekos geur) met melk vir die sous met 250gr kaas (vakuumverpak). Ons het sjokolade kits poeding gemaak. Onthou dat kitspoeding nooit styf raak met poeiermelk nie. Dra boksies melk (mens kry dit in 250ml groottes) van volroom en vul aan met water.

Lekker eet! Ons het.

Groete

No comments:

Post a Comment