Thursday, March 29, 2018

Laaste aand in Puerto Varas


Ek weet julle gaan dink ek het met die fotos gepeuter. Geen sonsondergang kan so lyk nie. Wel, dis net die Here wat sulke kuns kan bewerkstellig.

Ons stap 17:00 weer terug dorp toe van ons Kalfu gastehuis af. Dit is ‘n windstil 16 grade celsius en ons is kinderlik opgewonde. Almal praat van die mooi sonsondergange oor die Llanquehue meer met die Osorno, Calbuco en Tronador vulkane. Almal nog aktief.

Ons drentel deur die dorpie en vergaap ons aan al die honde, toeriste, skoolkinders en oulike winkeltjies.  Later gaan soek ons aandete by La Jardinera. Puerto Varas is bekend vir seekos en ek vat ‘n gereg met bietjie perlemoen, cerviche, calamari en garnale. Vingerlek-lekker!      


En toe die sonsondergang...  en net toe ons reeds elkeen 100 fotos geneem het en uitasem staan van mooigeid, kom die amper-volmaan op oor Vulkaan Tronador in die verte. Toe neem ons nog ‘n 100 elk! Ons is dan nou hier. Ek het nou regtig moeite om die ses mooistes te kies om vir julle te wys.  Wat ‘n voorreg. Mag Paasfees vir elkeen van ons ‘n sonsondergang wees van ons sondeskuld in Jesus se genade en mag die maan van God se ewige liefde en genade ook vanaand opkom oor jou Tronador. Waar jy ookal is. Sonder wie jy ookal is. In watse omstandighede jy ookal is. God is gister, vandag, môre en tot in alle ewigheid die reeds triomferende Koning. Hy is gekruisig. Hy het opgestaan. Hy leef. En ons met Hom.

 
Tronador Vulkaan met die maan skuins links bo hom.

       



         














No comments:

Post a Comment