Sunday, May 10, 2015

'n Ode aan my Ma

Dit is nou die een ding wat almal van ons op aarde het: 'n Ma!

Niemand van ons het sonder 'n ma in die wêreld gekom nie. En of jy nou joune vandag nog liefhet of nie, ek is oortuig daarvan dat jou Ma, soos myne, gebruike en vaardighede op jou oorgedra het wat jy elke dag in jouself erken en waardeer. Terwyl jy dink wat joune is, vertel ek solank verder...

Donderdagaand sit n vriendin saam met my en Koekedoor kyk by my huis. Ons praat en beduie of ons self een van die deelnemers is en as dit tyd word vir beoordeel is ons net so tuis in daardie rol. Sy vra later waar ek so leer koekbak het en ek is eensklaps terug in Susan Linde se kombuis in Wellington. My ma het vir meer as twee dekades gebak vir die tuisbedryf Woeker en Woel in die Paarl. Letterlik meer as n miljoen koeksisters en talle sjokolade rolkoeke, beskuit, dadelbrode, fudge, grootkoeke en vele meer.  Ons het meestal soggens wakker geword met die geluid van 'n elektriese koekmenger in ons ore. Dan is my Ma lankal besig in die kombuis om die bestellings van die dag reg te kry. Ek sien die prentjie nog glashelder voor my. Ma se seegroen lang kamerjas, pantoffels en altyd n lapsakdoekie in die kamerjas se sak. Die radio was altyd aan op die kas. Die ronde hout tafel met die oranje melamien top wat al wiegend heen en weer beweeg onder bakaktiwiteite. Dan word al die gebak in plastieksakkies gepak en kaartjies geskryf en vasgesit.

Soos ek nou hier sit kan ek presies die reuk terugroep van sjokolade versiersuiker en karringmelkbeskuit.

Jare later maak my Ma vir elkeen van ons vyf dogters n resepteboek met die volgende voorblad:



En ja, ons kan almal bak en brou soos my Ma. Maar vanoggend dink ek ook aan die ander goed wat ons by haar geleer het. Ons kan nie net meel laat rys nie, maar het by my Ma geleer hoe om gemeenskappe bymekaar te bring en te laat groei. Ons weet nie net hoe om suurdeeg te gebruik nie, maar het by my Ma geleer hoe om suurdeeg te wees in situasies waar ander gereed is om plat te val. My Ma is n sterk vrou met inbors, maar wat weet wanneer om ook kwesbaar en sag te wees. Soos 'n oond gebak warm maak en tot perfeksie bak, was my ouers se huis die regte temperatuur om floplose resultate te lewer, keer op keer. En net soos met 'n stoof het ek ook geweet dat dit nie die stoof is vanwaar die Krag kom nie. My ouers was en is deurentyd ingeprop by die Energiebron wat God Drie-enig is.

By my Ma het ek geleer dat die belangrikste bestanddeel is om Jesus Christus as jou persoonlike Verlosser te ken. Dan is elke poging die moeite werd. Toe ek 'n tiener was en soms nie lus was om
kerk toe te gaan nie, was my Ma se rustige finale sê: as 'n mens nie lus is nie, moet jy juis gaan! Tot vandag toe kry dit my telkens uit my bed en in die kerk op dae wat my bed warmer en sagter voel as 'n kerkbank.


Ek is dankbaar oor die huis waarin ek kon grootword en baie dankbaar vir my Ma. Veral dat ons deesdae ook beste vriendinne is. Baie gelukkige Moedersdag, Mamma! 
Bederf jou ma vandag en dink weer bietjie na oor die nalatenskap wat jy in jou dra van jou ouers. 

No comments:

Post a Comment