Thursday, June 20, 2013

Wolf skaapwagter

As ek vier dae terug geweet het wat ek nou weet, het ek dit nooit gedoen nie. Hoe kan 'n goeie bedoeling so skeef uitdraai? Ek is nou al 96 uur lank besig om die gebeure oor en oor in my kop te laat afspeel en elke keer wens ek 'n ander einde. Maar die werklikheid ruk my telkens na die hede terug.

Dit het so gebeur: Ek het nuwe vriende op Piketberg gemaak. Vir ons almal se beterskap noem ek hulle Inge en M. Inge het na my op die dorp aangekom en ons het dadelik gekliek en is heerlike vriende. Sy het 'n pleegkind wat sy al het vandat hy 2 is. M het verlede week 9 geword. Ek is baie lief vir beide van hulle. Ek het ook vriende geword met 'n boer in die omgewing. Hier noem ek hom Gawie. Gawie boer met skape, koring en beeste, maar nie in daardie volgorde nie. Hy is eerstens 'n saaier en dan 'n beesboer wat skape ook het. Hierdie jaar is 'n besonderse goeie jaar vir skape. Wat ek nooit geweet het nie, is dat saaiboere hul skape se lamtyd manipuleer om later in die jaar te val sodat hulle eers kan klaar saai voordat lamtyd begin. Met vandag se genetika en mediese wonders kry baie skape twee en drielinge en het gereeld hulp nodig met die geboorteproses. So die twee hoofaktiwiteite kan nie saamval nie. Dan is dit chaos. Gawie is 'n baie goeie boer en was erg verras dat hierdie jaar amper 165% lammers opgelewer het. Wel, dit was voordat ek vir M plaas toe geneem het.

Die afgelope twee weke het Gawie ook twee hanslammers wat hy grootmaak. Die mooiste goed! Ek het die voorreg gehad om ook 'n handjie te kon bysit en het die ervaring baie geniet. Toe dink ek dit sal wonderlik wees om ook vir M en Inge die hanslammers te wys dat hulle ook in die ervaring kan deel. Na lang beplanning en tye koordineer wat almal pas, is ons toe op Jeugdag se vakansiedag plaas toe. Gawie was skepties oor die besoek, maar het ingewillig.

Die eerste deel van die middag het baie goed verloop. Ons was rivier toe (die Bergrivier loop tussen die plase deur), het ons verkyk aan die flaminke op die dam, M het quadbike gery saam met Gawie en ons kon die beeste en hoenders van naby bekyk. Selfs die besoek aan die hanslammers was uit die boonste rakke. Later steek Gawie vuur op en ons kuier heerlik. Maar die vrede sou nie lank hou nie...

Nou moet ek myself onderbreek en verduidelik wat ek die afgelope tyd oor skape geleer het. Ek het altyd geweet om iemand 'n skaap te noem is 'n redelike belediging, maar nou weet ek: 'n skaap is vrek dom. Hulle word in klein kampies gehou vir die kraamproses en elke lammertjie word gemerk vir die eerste paar dae, want 'n skaap kan nie tel nie en weet nie self sy het 'n drieling nie en gooi sommer haar lammertjies weg. Daarom beweeg hulle glad nie. Solank as wat die lammertjie langs sy ma bly, lewe hy. As hy haar verloor, vrek hulle maklik. Na 'n week of wat word hulle uitgeplaas na die veldkamp met groot sorg en versigtigheid sodat die skape naby hul lammers kan bly en heeltyd weet wie is wie se lammers. Gawie en sy werkers is erg versigtig om nie die trop te versteur nie, want dit kan grootskaalse lamvrektes tot gevolg he.

In retrospek kan ek nie presies onthou hoe dit gebeur het nie. Ek en Inge het nog by die vuur gesit en gesels en M was by ons. Die volgende oomblik kom Gawie om die hoek en skree dat ons asb dadelik die kind uit sy ooie kamp moet kom verwyder, want hy is besig om groot probleme te veroorsaak. (die taal het definitief meer kruie bygehad!) Ek en Inge het voorhek toe gehardloop en net gesien hoe M tussen die skape deur hardloop en hulle aanjaag dam se kant toe. Selfs 'n paar klippe optel en agter hulle aangooi. Ek kan nie vir julle die skrik in my lyf verduidelik nie! Hoe het hy daar gekom? Hoekom doen hy dit? Wie het gese hy kan deur twee hekke op sy eie op die plaas wees?! Ek en Inge hardloop agterna en skree ons longe uit op M, maar sonder enige sukses. Ek gaan haal later my kar en ry nader. Toe ons by M kom is hy baie trots op sy prestasie en vra net of ons gesien het hoe vinnig hy is? Ek was stom van woede en skok.

Gawie was onheilspellend stil en op die oog af kalm. M het huilend omverskoning kom vra. Die res van die aand was styf en ongemaklik.

Baie lammers sal vrek. Dit was vir baie van hulle die eerste dag in die veldkamp en skape en lammers ken nog nie mekaar nie. Iemand sal hiervoor moet betaal.

In 'n whatsapp later die aand skryf Gawie: "Ek is jammer oor jou ervaring vanaand. M het baie plaashekke vir hom en ander vandag toegemaak."

Ek is nog besig om te dink wat ek alles hieruit geleer het. Onvoorsiene gevolge van 'n goeie bedoeling...

Hier is ek die vorige week met die grootste van die hanslamme. Sy naam is Soetraak en hy sukkel maar daarmee. Die tweede hanslam is heelwat kleiner. Sy naam is Kastig.

No comments:

Post a Comment