Sunday, September 27, 2009

Karoo 2 Coast


Om van Uniondale af Knysna toe te ry is vet pret... met 'n motor! Met 'n bergfiets is dit steeds pret, maar ook harde werk. Hierdie jaar het ons perfekte weer gehad en het die uitsigte opgemaak vir die harde werk wat jou bene moet doen.
Sewe van ons is Saterdagoggend 19 Sept 2009 in Stellenbosch weg met twee Diener-bakkies van Pa-Pieter en Johann. Ons moes eers by Flandria stop want George het tot 2 uur laas nag gedans en was effe onvoorbereid. Op Barrydale het ons perongeluk die sleutel van die een bakkie binne-in toegesluit. Gelukkig het dieselfde brein hom weer daaruit gekry. Ek en Pieter het ons hele fietstoer van twee jaar terug weer beleef op Route 62.
By Uniondale aangekom wag 'n groot skare fietsryers en ondersteuners ons in. Meer mense as wat ek verwag het en minstens 6 keer meer as toe ek dit gery het in 2004. Meer as 3000 ryers. Wow! Ons soek kampplek op die sportterrein en verken die wereld. Ons registreer en kry ons pasta en maak alles reg vir more. Om halfagt spring die eerste groep weg. Ek, Johann en Coos is in groep 5. Ek geniet die ryery terdee. Bult af is my kos en bult op moet jy net jou mond hou, moed hou en TRAP.
Pieter en Dorette ry die voertuie om. 7 km van die einde af kry ek 'n papwiel en baie tyd gaan verlore. Ek sal moet leer om 'n wiel om te ry. Wat 'n heerlike dag en heerlike reis. Louis Botha van Stellenbosch ry saam met ons terug. Hy het nou 1400 km met sy fiets gery tot op Uniondale (met 'n detour via Plett) en toe lekker fiks gewees vir die K2C.
Nou moet ons verder oefen vir To Hell and Back op 7 en 8 November 2009.

No comments:

Post a Comment